Spaar op Motor Versekering

Faktore wat jou Versekerings Premie kan Beinvloed

MOTORVERSEKERING

Dek basies you voertuig in geval van botsing, brand en diefstal.

Faktore wat die premie kan beïnvloed:

• Waar word die motor gestoor: As jou motor in ‘n toesluit motorhuis in ‘n sekuriteitskompleks gestoor word, behoort die premie laer te wees as vir ‘n motor wat snags buite in ‘n besige straat gelaat word.
• Residensiële area: As jy in ‘n hoë-risiko area woon, sal jou premie hoër wees as in ‘n lae-risiko area. Gebaseer op statistiek is die risiko vir diefstal en/of kaping in sommige areas groter as in ander.
• Wie bestuur gewoonlik die voertuig: Jonger bestuurders is geneig om meer ongelukke te maak as ouer bestuurders; vroulike bestuurders maak minder ongelukke as manlike bestuurders; ens.
• Waarvoor word die voertuig gebruik: Die premie is laer wanneer die voertuig bv. hoofsaaklik vir privaatgebruik aangewend word teenoor besigheidsgebruik; premie sal hoër wees as die privaatgebruiker ‘n student is wat elke aand saam sy vriende gaan kuier teenoor Ma wat die kinders in die middag ballet toe neem.
• Sekuriteit: Die versekeraar sal stipuleer wat die minimum sekuriteitsvereistes is gebaseer op die tipe voertuig en area waarin jy woon. As jou sekuriteitsmaatreëls meer is as hierdie minimum vereis, kan jy vir afslag op jou premie kwalifiseer. Versekeringsmaatskappy gee gewoonlik slegs afslag vir immobiliseerders, gearlocks en sporingstoestelle.
• Tipe dekking: Omvattende dekking is die duurste; dan volg derde party, brand en diefstal (dek brand en diefstal, sowel as skade wat jy aan ‘n derde party se eiendom mag aanbring) en laaste slegs derde party dekking (dek slegs skade aan ‘n derde party se eiendom, brand en diefstal is uitgesluit)
• Ekstras: As jy nie-standaard ekstras soos lugversorger, sondak, radio/cd speler, leersitplekke ens. in jou motor het, mag ‘n addisionele premie vir die ekstras gehef word.
• Vrywillige bybetaling: Meeste versekeraars verminder jou maandelikse premie indien jy bereid is om ‘n addisionele bedrag tot jou basiese bybetaling per eis te betaal. ‘n Hoër vrywillige bybetaling beteken ‘n laer maandelikse versekeringspremie.

 

Drie waardes waarteen motor verseker kan word:

• Kleinhandelwaarde : die prys waarteen ‘n motorhandelaar die voertuig sou verkoop
• Inruilwaarde : die prys wat ‘n motorhandelaar vir die voertuig sou betaal
• Markwaarde : halfpad tussen kleinhandel- en inruilwaarde

Sommige kontrakte word gebaseer op markwaarde, wat ± 4% tot 5% minder uitbetaal as wat dit jou gaan kos om ‘n soortgelyke voertuig van ‘n handelaar te koop.

As jy maksimum uitbetaling met die afskryf van ‘n voertuig wil hê,moet jy jou motor teen kleinhandelwaarde verseker. Maar, jou maandelikse premie gaan dan omtrent 5% hoër wees.

Wees versigtig om nie die volgende fout te begaan nie:

Jy koop ‘n voertuig vir R200 000, verseker dit vir R200 000 en jy dink nie weer verder aan jou versekering nie. ‘n Paar jaar later word jou motor gesteel. Die waarde van die voertuig op daardie stadium is R50 000. Jy ontvang slegs R50 000 van jou versekeraar. Oor die jare het jy egter R5 000 of meer te veel op jou premies aan jou versekeraar betaal.

Dit is JOU verantwoordelikheid om jou premies laag te hou deur gereeld jou versekeraar te herinner om die waarde waarteen jou motor verseker is, te verminder soos die waarde van die voertuig oor tyd afneem.

 

HUISHOUDELIKE INHOUD VERSEKERING

Dit dek alles BINNE-IN jou huis.

Wees versigtig om nie die volgende foute te maak nie:

• In die sekuriteitsklousule van jou polis spesifiseer jy die spesifieke sekuriteitstoestelle wat geïnstalleer is bv. diefwering, veiligheidshekke, alarms. Oor tyd verweer of breek hierdie beskermingstoestelle egter. Wanneer die assessor jou eiendom na ‘n inbraak besoek, sien hy dadelik dat die elektriese heining of alarm wat in jou kontrak gespesifiseer is, nie meer werk nie. As een van die gespesifiseerde toestelle nie werk soos dit moet nie, word jou eis dadelik afgekeur.

Maak seker dat jou sekuriteitsmaatreëls werk soos dit moet, of stel jou versekeraar in kennis indien een van die toestelle nie meer gebruik word nie (wetend dat dit jou premie gaan verhoog).

• Niemand hou daarvan om stoel vir stoel, kussing vir kussing, kamer vir kamer, rand vir rand te tel nie, maar die tyd daarop spandeer – sê omtrent 2 uur per jaar – kan jou moontlik duisende spaar.

Jy verseker die inhoud van jou huis vir R100 000. Oor tyd koop jy nuwe items and meubels. Jou nuutste kopie is ‘n slaapkamerstel van R50 000. Weens ‘n vuur word die stel verwoes. Jy is egter nie bekommerd nie, want jou huisinhoud is jare gelede vir R100 000 verseker en jy wil slegs R50 000 eis.

Verkeerd. Die assossor besoek jou huis, sien al die nuwe meubels, kunswerke en ander items wat jy oor die jare gekoop het, en skat die waarde van jou huisinhoud op R500 000. Maar die R500 000 goedere is slegs verseker vir R100 000 verlies, wat beteken dat vir elke R1 slegs 20c teen verlies verseker is. Die gevolg: Slegs R10 000 word uitbetaal vir jou R50 000 stel (R50 000 x 20c).

Dit is JOU verantwoordelikheid om die waarde van jou huisinhoud gereeld op te dateer.

Faktore wat die premie kan beïnvloed:

• Residensiële area: As jy in ‘n hoë-risiko area woon, sal jou premie hoër wees as in ‘n lae-risiko area.
• Dak- en muurkonstruksie: As jou huis nie ‘n standaard dak (bv. grasdak) of mure het nie, is daar ‘n groter risiko as by ‘n standaard huis en sal jou premie dienoorenkomstig verhoog.
• Sekuriteit: Die versekeraar sal stipuleer wat die minimum sekuriteitsvereistes is gebaseer op die area waarin jy woon. As jou sekuriteitsmaatreëls meer is as die minimum vereis, kan jy vir afslag op jou premie kwalifiseer.
• Oor die algemeen word huisinhoud gedek teen brand, diefstal, wind en stormskade. Indien jy enige van hierdie, byvoorbeeld inbraak en diefstal, uitsluit, kan jou premie moontlik verminder word.
• Eisvrye jare: Iemand wat vir die eerste keer versekering uitneem, se premie gaan hoër wees as ‘n persoon wat al ‘n paar jare ‘n polis het sonder om te eis. Afslag word bereken op die aantal jare wat jy verseker is sonder om te eis.
• Vrywillige bybetaling: Meeste versekeraars verminder jou maandelikse premie indien jy bereid is om ‘n addisionele bedrag tot jou basiese bybetaling per eis te betaal. ‘n Hoër vrywillige bybetaling beteken ‘n laer maandelikse versekeringspremie.

 

HUISEIENAARSVERSEKERING

Huiseienaarsversekering is die stene en sement en dak en monterings – dus die verbeteringe wat aan die eiendom aangebring is.

• Meeste polisse sluit onderhoud en die gevolge daarvan uit.
As jou huis se dak na ‘n storm inmekaar sak en die assessor vind dat die balke as gevolg van termiete al vrot gevreet was, sal daar geen uitbetaling plaasvind nie. Dekking word deur voldoende onderhoud verseker.
• Meeste polisse se dekking word gebaseer op herbouwaarde en nie markwaarde nie.
Markwaarde word bepaal deur ligging, misdaadsyfer, ens.
Herbouwaarde is wat dit gaan kos om skade te herstel teen dieselfde standaard, op dieselfde wyse en op dieselfde plek.
• Dit is JOU verantwoordelikheid om die waarde van jou eiendom op datum te hou.
Jou versekeraar mag dalk die waarde van jou eiendom jaarliks outomaties aanpas, maar nie noodwendig genoeg nie. As die hele eiendom vir R100 000 verseker is, maar die herbouwaarde is R200 000, sal slegs die helfte van enige eis uitbetaal word.
Sommige mense dink dat aangesien die bank die eiendom waardeer het, die waarde korrek sal wees. Verkeerd. Die bank kyk net na die waarde van die eiendom in soverre dit as sekuriteit dien vir die dekking van jou verband. Hulle kan ‘n waarde aanbeveel, maar die versekeraar gaan nie noodwendig die waarde aanvaar nie, veral nie indien onderhoud of konstruksie nie op standaard is nie.

Dit is JOU verantwoordelikheid om die waarde waarteen jou eiendom verseker is, op datum te hou.

PERSOONLIKE AANSPREEKLIKHEIDVERSEKERING

Die tipe versekering dek skade aan eiendom/persone wat nie lede van jou huishouding is nie.

Van dit kan deur Huiseienaars-, Huishoudelike inhoud of motorversekering gedek word. Kyk eers hierna voordat jy persoonlike aanspreeklikheidversekering uitneem om seker te maak wat word reeds gedek en waar jy op risiko is.

Voorbeeld: Wanneer jou hond iemand in jou erf byt, mag jy dalk gedek wees, maar indien jou hond iemand buite in die straat byt, word jy nie gedek nie. Neem jou leefstyl in ag: kom die hond gereeld by die hek uit? Is dit ’n pitboel of ‘n poedel?

ALLE RISIKO VERSEKERING

Hierdie versekering dek alle roerenede eiendom soos handsakke, selfone, horlosies, fietse, skootrekenaars, ens.

Jou verliese word gedek maak nie saak waar dit gebeur nie, solank die items egter gespesifiseer is.

Stel vas wat die limiet is vir lae-waarde items wat nie gespesifiseer hoef te word nie. Maak dan seker dat jy alle items wat meer werd is as die limiet, spesifiseer: model, maak, kleur, reeksnommer, alle ander inligting wat die item kan identifiseer. Indien dit meer werd is as die limiet, en dit is nie gespesifiseer nie, sal dit nie gedek wees nie.

ONGELUKDEKKING

Hierdie versekering dek jou teen permanente ongeskiktheid weens ‘n ongeluk en maak voorsiening vir jou geliefdes in geval van jou dood.

Dit is die moeite werd om baie kieskeurig met ongelukdekking te wees. Jy sal groot verskille vind tussen die verskillende polisopsies beskikbaar.

Insurance

Huis versekering 

tuisblad | OUTsurance | dial-direct | BMW Insurance

real estate | photography | millionaire | flight bookings | forex trading | diet| Free Ads | Hilux 4x4 | Share investing